
Op 29 April 1963 stuur die 29-jarige digter Ingrid Jonker ’n telegram aan André P. Brink. Sy bedank die 27-jarige skrywer vir blomme en ’n brief wat hy aan haar besorg het. In die meer as tweehonderd skrywes wat hierna tussen die twee volg, ontvou sekerlik die bekendste liefdesverhouding in die Afrikaanse literêre geskiedenis. Jonker se finale brief aan Brink is gedateer 18 April 1965 – drie maande voordat sy die see in loop by Drieankerbaai.