Dit is 2035. Speurder Serf Serfontein word geteister deur die demone van sy verlede. Nag na nag beleef hy die angs van dieselfde nagmerrie en begin gevolglik drink. Wanneer sy werk al weer daaronder ly, word hy op verpligte verlof gestuur en moet gaan vir berading.
Op pad na 'n vakansieoord help hy twee vrouens om 'n pap wiel om te ruil. Elsabe is 'n beeldskone televisiepersoonlikheid wat besig is met 'n ondersoek na staatsgeld wat verdwyn het, en die ewe mooi Alicia is haar universiteitsvriendin saam met wie sy vir 'n paar dae wegbreek.
By die vakansieoord loop hulle mekaar weer raak en ten spyte van die feit dat Alicia soms vreemd optree, bring die drie tyd saam deur en vorm vriendskapsbande. Dan hoor hulle dat daar 'n ontploffing in Elsabe se woonstel in Sandton was, en glo sy iemand wil haar dood hê.
Te midde van 'n staatsgreep besluit Serf om haar te help om uit te vind wat aangaan en wie haar probeer stil maak. In die proses vind hy skokkende dinge uit en moet hy moeilike besluite neem.