Frances vlug van ’n hartseer verlede weg na ’n koue Skotland toe. Hier, waar haar ma se
mense vandaan kom, wil sy graag ’n nuwe lewe begin en vergeet van wat gebeur het.
Daar aangekom, laat weet sy haar ouma Martie wat op ’n plaas naby Hazyview woon. Sy
begin werk as ’n onderwyseres by ’n plaaslike skool en loseer by gawe Skotte, maar selfs
die pragtige landskap en mense is nie altyd genoeg om haar siel te salf nie.
In Suid-Afrika vind Martie dit moeilik om alles alleen te behartig. Dit is nie maklik om ’n
weduwee op ’n plaas te wees en haar kleinkinders groot te moes maak nie, al doen sy so
met baie liefde en geloof. Toe Frances se broer, Deon, gewerf word deur ’n skool in
Pretoria voel sy egter heeltemal alleen. Na ’n plaasaanval besef Martie dat sy ’n
plaasbestuurder sal moet aanstel, en só betree Dillon Geduld haar wêreld.
Gerbrand is ’n Suid-Afrikaanse predikant in Skotland en worstel met sy eie gebrokenheid
en pyn terwyl hy ander moet bystaan. Sy troos is die Skotse landskap, die Woord, sy
bediening en sy ouers se ondersteuning. Een Sondag sien hy vir Frances raak ... By die
kerk ontmoet Frances ’n landheer en word na sy herehuis genooi. Daar besef sy, sonder
dat hulle dit weet, dat die MacIntyres bloedfamilie is ...
Groete uit Skotland is verhaal van intrige, familiebande en verrassings. Gebroke mense
vind hoop en bemoediging by mekaar terwyl hul worstel deur hulle eie verliese,
verhoudings en teleurstellings. Soms draai dinge nie uit soos jy verwag het nie, selfs nie
eers op die asemrowende hooglande en eilande van Skotland nie.