Tussen oorloë, tussen families, tussen wêrelde
Getoë as ’n kampkind tydens die Anglo-Boereoorlog, word Rebekka as arm
bywoner groot op Kameeldoornplaas, wat aan die ryk Wright-familie behoort.
Bekkie is ’n skrander leerling, lief vir skool en haar boeke. Toe sy noodgedwonge
die skool verlaat om na die Wrights se dogtertjies te kyk, dink sy dis tydelik. Maar
haar versukkelde, verminkte pa “verkoop” haar aan die Wright-gesin. Nou moet sy
haar land en mense agterlaat om in Engeland kinderoppasser te word.
In die sprokiesmooi Oxford moet sy haar voete in die volksvreemde vind.
Gelukkig is prof. Wright die leergierige Bekkie goedgesind. Onder sy leiding
verbreed haar kennis oor alles van Britse kookkuns tot wêreldpolitiek. Dis hier
waar haar oë oopgaan. Dis ook hier waar sy die professor se broerskinders, Richard
en David, bevriend.
Maar oorlog broei op die horison en die noodlot is nog lank nie klaar met
Rebekka nie.
Waar pas sy in hierdie wye wêreld in? Is sy Boer of Brit? Is sy regtig die jong
dame van die herehuis in Oxford? Wat dan van die kaalvoet kind van
Kameeldoornplaas?