Jacques Papenfus se organisasie Moeggesukkel is bekend vir die duisende lewens wat hierdie platform aanraak, maar min mense ken die verstommende verhaal van die man agter die skerms. Ná 'n tragiese motorongeluk waarin Jacques op negejarige ouderdom sy hele gesin verloor, volg 'n lewe van trauma, skuldgevoelens, rebellie en 'n voortdurende hunkering na 'n plek waar hy behoort. Maar uit hierdie tydperk van ongekende seer het 'n buitengewone reis van geloof en herstel begin. Jacques neem die leser deur sy donkerste jare, sy soeke na antwoorde, wonderbaarlike ontmoetings met God en die ontstaan van Moeggesukkel.
Hierdie is die verhaal van 'n seuntjie wat gewonder het waarom hy oorleef het, en 'n man wat ontdek het dat sy diepste wonde die plek geword het waar God se genade die helderste skyn.
Die seun wat bly leef het is 'n getuienis van hoop vir elkeen wat verlies, verwerping of eensaamheid ervaar het - 'n herinnering dat ons waarde nie bepaal word deur wat ons verloor het of wat ander van ons dink nie, maar deur die wete dat ons kosbaar is in God se oë.