
Hierdie waardevolle boek werp nie net ‘n insiggewende blik op ‘n bykans onbekende deel van die geskiedenis nie, dis ook in alle opsigte ‘n asemrowende produk: groot formaat, hardeband, gedruk op glanspapier met ‘n verwyderbare volkleur skutblad, spog dit ook met kleur-afdrukke van skilderye deur Thomas Baines, argiefmateriaal, foto’s, kaarte, eindnote, ‘n register en lyste van afkortings en bronne. As in ag geneem word hoe min primêre bronne oor hierdie geskiedenis bestaan, is die navorsing en detail werklik bewonderenswaardig. Die teks is boonop uiters toeganklik (selfs vir die leek – wat ek inderdaad is) en lees deurgaans onderhoudend, beurtelings spannend en vermaaklik. Die insluiting van ‘n teoretiese raamwerk wat die optrede van nasies wat met ‘n krisis gekonfronteer word analiseer aan die hand van 12 faktore (deur Jared Diamond) is ongetwyfeld ‘n groot aanwins om die optrede van die Humpata-boere beter te probeer begryp.
As waardige nominasie vir die Kyknet-Rapportprys (nie-fiksie, 2022) is dit gewis ook die klas publikasie wat vir die nageslag bewaar behoort te en sal word.