Barto haat Dinsdae. Niks opwindends gebeur ooit op ’n Dinsdag nie. Elke
Dinsdag ná skool laai ouma Elsa hom op. Dan gaan hulle biblioteek toe.
Dinsdae kuier Ouma en haar vriendinne in die biblioteek se tuin. Hulle drink
tee en gesels oor boeke. “Gaan soek vir jou ’n boek, Barto,” sê Ouma elke
Dinsdag. Maar Barto het nooit lus nie. Die enigste ander kind wat elke keer
daar is, is die geheimsinnige Boekmeisie. Die Boekmeisie het nog nooit ’n
woord met hom gepraat nie. Hy weet nie eens wat haar regte naam is nie.
Maar toe Barto een middag ’n bal skop, is dit die begin van ’n holderstebolder
avontuur ... vol betowerende wesens, raaisels en asemrowende aksie.
In hierdie heerlik aweregse, snaakse storie vol trolle, drake, kabouters en
ander towerwesens skep Jaco Jacobs ’n moderne sprokie wat hulde bring
aan die wonder van boeke en die verbeelding – gepaste temas vir hierdie
uitsonderlike skrywer se 300ste boek.