
As jy Wag-‘n-bietjie gelees het, gaan jy meer weet van talryke onderwerpe:
Tergende moordraaisels, koerante, die parlement en karakters van die 80’s, asook die bos waarvoor die skrywer hartstogtelik lief is. Dit is ‘n belofte aan lesers.
Koerante kwyn en verdwyn, maar gelukkig bestaan energieke oudredakteurs soos Hennie van Deventer met ‘n skatkis van stories uit ‘n era waarvan hulle intieme kennis het. Hy deel hierdie bekoorlike memoires met insig, binne-kennis en bowenal heerlike humor.
Sy boeiende onderwerpe sluit in die Niggiemoord (ook reeks op TV); die Clack-gesinsmoord; politici PW Botha, Piet Koornhof en Hendrik Schoeman; skrywers Hans du Plessis en Tony Park. Sy benadering is vars en oorspronklik. Dit is Van Deventer op sy stukke.
Hierdie is reeds die 24ste boek van hierdie vrugbare skrywer. Nege is koerant-verwant – ‘n unieke bydrae.