Dis so onthutsend as om agter te kom dat die skaduwee wat nog altyd aan my voete gekluister was, hom losgeruk het en nou elders dwaal, op vrye voet. Op sy ma se begrafnis in die Kaap maak André Verreyne die verbysterende ontdekking dat hy ’n identiese tweelingbroer het van wie hy in die wieg geskei is. Hy het net enkele dae om sy broer te probeer opspoor voordat hy moet terugvlieg Nieu-Seeland toe vir sy dogter se troue. Dit gee ’n speurtog af wat hom lei na uiteenlopende mense op sy broer se lewenspad – elkeen met ’n verrassende storie te vertel. Gou begin ’n prentjie vorm van ’n persoon wat héél anders as André self is, al word hy gedurende sy soektog voortdurend vir sy broer aangesien. Hoe meer hy oor sy broer uitvind, hoe meer begin hy sy eie lewenskeuses bevraagteken. My skaduwee loop los is ’n meesleurende, veelvlakkige verhaal oor die soeke na wat werklik die waardevolste lewe is en die antwoord op die tergende vraag: Wat as?